Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 11 JANUARIE 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

HET U VIR ‘N PIC-PROGRAMMERINGSKURSUS INGESKRYF?

DX-PEDISIE IN NAMIBIË EN AMA-KONTAKTE

SARL-LIDMAATSKAP GROEI STEEDS

EERSTE 2009-PRESIDENTSNET

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

HET U VIR ‘N PIC-PROGRAMMERINGSKURSUS INGESKRYF?

As deel van die Radiotegnologie-in Aksieprogram, bied die SARL ‘n PIC-programmeringskursus in Durban, Johannesburg en Kaapstad aan.

Die datums is as volg:
Durban: Saterdag 21 Februarie by die Durban Amateurradiosentrum;
Gauteng: Saterdag 7 Maart by die NARS;
Kaapstad: Saterdag 14 Maart by yger Terraces, Tyger Waterfront in Durbanville.

Besprekings vir hierdie kursusse kan nou gedoen word. Die kursus in Durban is reeds 50% volbespreek. Elke kursus word beperk tot 20 persone.

Die kursusfooi is R200 vir SARL-lede en R300 vir nielede. Indien u rekenaar nie oor ‘n ware seriepoort beskik nie, benodig u ‘n USB-programmeerder wat teen slegs R235 aan kursusgangers beskikbaar sal wees.

Die fooi sluit die volgende in: onderrig, die benodigde sagteware op ‘n laserskyf, ‘n demonstrasiebord met ‘n PIC, ‘n programmeerder om u programme na die PIC af te laai, alle onderdele en twee projekborde uit ‘n keuse van 10 sowel as ligte verversings. Die kursus duur van 09:00 tot 14:00.

Alle kursusgangers sal ook ‘n sertifikaat van Microchip ontvang.

Besoek die SARL RTA-webwerf vir volledige besonderhede en aanwysings oor hoe om in te skryf. Die adres is www.sarl.org.za, kies “actovities” en klik dan op RTA.

DIE DX-PEDISIE NA NAMIBIë MAAK 89 AMA-KONTAKTE GEDURENDE SY EERSTE NAG

Die DX-pedisie gebruik die roepsein V5/KT6Q en het sy eerste kontak vroegaand op 8 Januarie rondom 18:15 lokale tyd gemaak met die KT6Q-lisensiehouer, Dan, HB9CRQ, met sy groot AMA-tuisstasie, HB9Q. Bedryf het deurnag voortgegaan tot 04:00 in die oggend toe die maan in die Atlantiese oseaan verdwyn het. Toe die kontakte vir die dag getel is, was daar 89 inskrywings op die logstaat wat vir Glenn, ZS2GK, naby Umtata ingesluit het. Met geen toegang tot vorige statistieke nie, bly hierdie ‘n merkwaardige prestasie van AMA-bedryfdeur ‘n relatiewe klein draagbare stasie. Alhoewel meeste met stasies in Europa en Asiatiese Rusland was, is hulle versprei oor 27 DXCC-entiteite wat ook Japan, Kanada en die VSA insluit.

Die ligging by Diazpunt kan alleenlik as perfek beskryf word maar alles het nie vlot begin nie. Die eerste prioriteit was die 144 MHz-stasie en die sleepwa gemonteerde Yagi antennasamestelling. Die 144 MHz toerusting is gekoppel en nagegaan en toe dit kom by die ‘rooktoets’, verkry hulle dit letterlik, naamlik rook, toe die uitgeputte FT-736R van ZS6WB wolke daarvan voortbring. Na ‘n bietjie omruiling van toerusting is die IC-910, wat vir 432 MHz bestem was, in sy plek ingespan, en die 144 MHz-stasie was gereed om net na maanopkoms laat Donderdagmiddag in diens gestel te word.

Die span is die versekering gegee dat betroubare krag by Diazpunt beskikbaar is, maar dit het geblyk van alle waarheid ontbloot te wees. Dit was dus nodig om ‘n kragopwekker van voldoende vermoë om in hulle vereistes te kan voorsien, te huur. Natuurlik het dit ‘n addisionele las op die begroting geplaas, wat alreeds verby breekpunt gerek is.

Besoek www.sarl.org.za vir die volledige storie.

SARL-LIDMAATSKAP GROEI STEEDS

Teen Donderdag verlede week het die SARL se lidmaatskap op 1 370 gestaan. Met u ondersteuning behoort ons spoedig die 1 400-merk verby te steek. Ons verwelkom hierdie week vir:

ZR1GCP, Trevor Phillips;
ZR1CS, Colbrin Sieberhagen;
ZR2CR, Colette Rundle;
ZS6AKU, Dirk Els;
ZS6SUE, Sue Blackburn.

Ledegeeld vir die volgende 6 maande, dit is tot die einde van Junie 2009, sal u slegs R170 kos. Hierdie aanbod is ook beskikbaar vir lede wat nagelaat het om gedurende Julie 2008 te vernuwe, maar hulle aansluitingsdatum sal as Januarie 2009 aangeteken word. Lede wat nou aansluit sal gedurende Mei vanjaar hernuwingskennisgewings vir die 2008/2009 jaar ontvang.

VOLGENDE PRESIDENTSNET OP 25 JANUARIE

Sluit by die SARL se President, Rassie Erasmus, ZS1YT, op 25 Januarie by die Presidentsnet aan. Raadslede sal ook aan die net deelneem en sal besonderhede van die SARL se Nasionale Konvensie, wat van 24 tot 26 April in Kaapstad gehou sal word, die jongste situasie aangaande KLT en ‘n opdatering van die OKOSA-proses aangaande die uitbreiding van die 40 meterband, wat aan die einde van Maart bekikbaar word, in oënskou neem.

Klubs word uitgenooi om hulle herhalers aan die netwerk te koppel. Stuur besonderhede van die herhaler en telefoonnommer wat gekoppel moet word aan armi@sarl.org.za. Die inligting moet nie later nie as 20 Januarie verskaf word sodat die bespreking vir die konferensiefasiliteit gemaak kan word.

VELDSTASIES MAAK GEREED VIR DIE PEARS BHF-/UHF-KOMPETISIE

Die PEARS Nasionale BHF-/UHF-kompetisie sal volgende naweek plaasvind.Dit is ‘n 44-uur dubbelsessiekompetisie vir beide analoog- en digitale modusse. Die eerste 22-uursessie begin om 18:00 SAT op Vrydag 16 Januarie en duur tot 16:00 SAT op Saterdag 17 Janurie. Die tweede sessie is van 16:01 SAT op Saterdag tot 14:00 SAT op Sondag 18 Januarie.

Daar is kategorieë vir vaste stasies, veldstasies, multioperateur/klubstasies en ‘n beperkte kategorievir daardie operateurs wat om verskeie redes nie aan die hele kompetisie kan deelneem nie.

Ons is ingelig dat ‘n aantal veldstasies in die Oos- en Wes-Kaap opgerig gaan word. Veldstasies is gewoonlik baie aktief gedurende die volle tydperk van die kompetisie; dit is soos die kombinering van amateurradio en kampering wat werlike genot aan almal bied.

Die kompetisie strek oor die BHF-bande, 50, 70 en 144 Mhzsowel as 432 en 1 296 MHz op UHF.. Beide analoog- sowel as digitale transmissiemodusse word aangemoedig.

Tropovoortplanting kan moontlik langafstandkontakte vroegoggend en laataande toelaat terwyl sporadiese E-voortplanting moontlik in die oggende kan voorkom en selfs ook in die namiddae. Kyk ook uit vir meteoorspreiding ‘n uur of meer voor en na sonop.

Hierdie is ‘n wonderlike geleentheid om u bedryfsvaardighede en die effktiwiteit van u toerusting te toets.

Volledige besonderhede aangaande die kompetisie is op die webwerf van PEARS nl. www.zs2pe.co.za beskikbaar asook op die SARL BHF-Forum en die zsvhf “mailmanlys”.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

15 en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 10, 15 en 20 m-openinge vanaf 12:00 SAT na Indië. 15 m-kontakte met Nieu-Seeland gaan vir 'n kort rukkie om 08:00 moontlik wees. Om 08:00 en weer om 14:00 is daar moontlike flou 20 m-openinge na Australië. Kontakte met Peru is baie onwaarskynlik. Brasilië kan waarskynlik op 20 m vanaf 19:00 gewerk word. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike kort, swak 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA se Ooskus is op 15 m vanaf 18:00 moontlik.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Selfs 20 m word bietjie wakker voor oggendtee.

Saans is 80 m die beste keuse. Met somer hier kan die donderstorms en geraas weens statiese ontladings kontakte ‘n bietjie uitdagend maak.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou in die nuwe jaar aangenaam kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

Ten slotte:

DAGBOEK VAN GEBEURE

11 Januarie, vandag – "Hunting Lions on te Air" nog aan die gang;
16 tot 18 Januarie – PEARS BHF-/UHF-kompetisie;
25 Januarie – Presidentsnet;
31 Januarie – Mosies en agenda-items vir die SARL 2009 AJV moet in wees;
Gedurende Januarie – Stuur nominasies vir SARL-toekennings in;
15 Februarie – sluitingsdatum vir inskrywings vir Tinus Lange-toekennings;
21 Februarie – PIC-kursus in Durban.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz – let op die verandering in frekwensie. Daar is ook ‘n PODCAST-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ‘n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003